Blog Archive

Wednesday, November 07, 2007

husky


Our apologies to our readers who do not speak Afrikaans, since this week's post has been written in that language. We'll be back in English next week.

Ek was 9 jaar oud toe ons vir Husky gekry het en toe het ons nog op Saldanha gebly. Sy was ‘n kruis tussen ‘n corgi en ‘n pug en soos alle gekruisde honde het sy goed oud geword en het ‘n hele 17 jaar geleef. Die dag toe ons haar gaan haal het by die pet shop in Vredenburg het ek en my broer gestry wie kan haar in die kar vashou terwyl ons huistoe ry; my pa het haar toe uit radeloosheid tussen ons twee op die bank laat sit. Sy was toe net ‘n klein donserige bolletjie met enorme bruin ogies wat verskrik haar nuwe wêreld bekyk het. By die huis het sy vir so twee weke eers in ‘n boks in die kombuis geslaap en ons wakker getjank; sy het seker haar ma gesoek.

Ek onthou haar gewoontetjies. Sy was lief vir opgaar. As mens haar ‘n beskuit in die huis gegee het om te eet, het jy dit so ‘n paar weke later onder die bank se sitplek gevind wanneer mens na die tv remote soek. Bene het sy nooit in grond begrawe nie, maar altyd met haar neus onder die gras ingestoot en as mens vir haar gekyk het terwyl sy dit doen dan vat sy haar been en begin weer op ‘n ander kol. Husky het bad gehaat en het altyd getjank in die bababad wat ons gebruik het, maar wanneer sy klaar gebad was het sy histeries rondgehol en so laf op die gras gerol. In die aande het sy so teen die agterdeur gekrap om in te kom dat daar later ‘n slootjie gekrap was en dan het sy by my pa gelê en slaap terwyl hy tv gekyk het; as hy nie daar was nie het sy net op die bank gelê - snaaks hoe sy altyd net op die een bank wou lê en nooit op die ander nie. Soms het sy klippe gekou, en terwyl sy kou tjank sy.

Husky was nie net ‘n hond nie,maar ‘n klein mensie wat emosies en gevoelens gehad het. As my ouers hartseer was wanneer ons kinders ná ‘n vakansie se kuier weggaan, het sy styf teen my ma se been gaan sit en was saam hartseer gewees. Net voor my pa sy eerste epileptiese aanval gekry het, het Husky dit aangevoel en begin tjank.

Husky se gunsteling-kos was hoender. Wanneer ons hoender geëeet het was daar altyd vir haar ‘n spesiale bordjie op die tafel waarin almal hulle hoendervelletjies en kraakbeentjiees gesit het, terwyl Husky geduldig by die agterdeur sit en wag vir haar deel wat sy al die hele aand uit die kombuis ruik.

Husky was goeie geselskap in die tuin vir my pa nadat hy ‘n beroerte gehad het en nie meer kon praat nie. Hy het in sy babataal met haar gepraat en sy het altyd by hom gesit en luister wat hy gorrel; sy het hom oral rondgevolg in die tuin.

Toe Husky begin oud word het sy nie eintlik meer in die huis gekom nie en het al hoe meer tyd in haar hok spandeer wat my pa vir haar gemaak het. Later het sy ‘n gewas tussen haar bene gekry en haar voortande het begin uitval, maar ‘n happy hond het sy gebly.

Written by The One

0 comments: