Monday, September 28, 2009

sommer iets van alles en vrede en liefde vir almal

Ek dog ek gaan vandag blog, maar weet nie regtig oor wat nie. So ek gaan maar sommer net vertel wat in ons lewens gebeur. The One het laas week vir twee dae gewerk by I se werk (papiere vou en boekies maak en plakkers plak – completely mindless, maar darem teen R120 per dag). Dit was goed vir hom om uit te kom,want al wat hy dag in en dag uit sien is die woonstel se vier mure. Hy probeer egter ‘n verskil aan sy lewe maak en het vir ‘n analitiese chemie pos aansoek gedoen. Sy CV is al 2 weke terug gestuur en hy het nog niks gehoor van ‘n onderhoud nie. Die werk gaan deur ‘n agent. Agente kan maar stadig wees en dalk het hulle nog my CV uitgegooi omdat ek overqualified is vir die werk. Hulle antwoord ook nie emails nie. En en en en wat kon nog gebeur. In elk geval, die twee dae se werk was lekker en dit was goed om besig te wees.
Die seisoen het so vinnig verander. Skielik is dit nie meer so koud nie en die dae is langer. Hierdie was ‘n koue winter en die koudste een wat The One nog in sy 5 jaar in Pretoria beleef het. Ons is darem 5 lywe in die bed om mekaar warm te hou. Nou slaap die kinders meesal bo-op die komberse noudat dit nie meer so koud is nie. Ons sien baie uit na die somerreën en -storms. Alles is skoon wanneer dit gestorm het en na elke storm kan Pretoria weer oor begin. Wat word van die mense op straat wanneer dit so reën? Die Kaap is nog koud en nat volgens The One se ma.
The One drink nie meer sy pille nie. Daar is net nie meer R900 per maand daarvoor nie en dit moes gelos word. Sovêr gaan dit goed, maar dis nou eintlik ‘n groot eksperiment: gaan hy dit weer verloor sonder sy pille of is hy genees? Gaan hy weer in Weskoppies opeindig? Sovêr pla die pilare nie te veel nie (haloperidol), maar ‘n golf van depressie kom soms oor hom (escitalopram) en sy gemoed gaan bietjie op en af (lamotrigen) en hy sukkel om te slaap (oxazipam), maar niks te erg wat ons nie kan hanteer nie. The One wonder of I ‘n verskil in hom kan sien sonder die pille en hy wonder of sy geliefde saam bang is met hom vir wat kan gebeur. Ontrekking van die pille was woes: naarheid, opgooi minstens twee keer ‘n dag en hoofpyne vir so twee weke. Positiewe aspekte van die pille wat weg is is ‘n oop en helderder kop, beter seks en ‘n beter intellektuele vermoë, o ja, en dit lyk of ek ‘n bietjie gewig verloor. Medikasie is goed, maar dit kan mens afbreek ook soos die kinesioloog gesê het wat The One twee keer gaan sien het.
The One onthou nog die maaikies wat hy in Weskoppies gemaak het toe hy vir ‘n week daar was (hy het na ‘n week ontsnap met ‘n “day pass”, I se blink idée om ‘n werksonderhoud te fake). Daar was X, ‘n skisofreen wat glad nie oor sy kondisie gepraat het nie. Hy was al ‘n jaar en ‘n half daar en het nog nooit ‘n besoeker gehad nie. Sy familie wil niks met hom te doen hê nie. Z, ‘n ou man wat uit ‘n ouetehuis uitgegooi is, is ook ‘n skisofreen (dalk was ek in ‘n skisofrenie-saal). Hý het nogal gepraat oor sy kondisie. Hy glo daar is meer as een mens in sy kop en hulle gaan een vir een dood en wanneer almal dood is gaan hy net ‘n “humanoid” wees. Wanneer hy dinge doen dan hou die mense in sy kop hom dop. Hy kan bv. nie ‘n ATM werk nie want dan sien die mense in sy kop sy PIN so nou dra hy donker brille wat help vir dit. Hy sny ook sy hande stukkend,want hy glo sy hande is possessed. Dan was daar W, wat nie ‘n woord gepraat het nie en amper geen reaksie toon nie. Ek het eendag met my mp3 player vir hom La Campanella van Liszt gespeel en hy het net sy oë toegemaak en geluister. Die susters het gesê dat hulle nog nooit so ‘n reaksie uit hom gekry het nie. Musiekterapie! Ek het ook elke dag vir hom gesê watter dag dit is. Dan was daar ‘n Indiese man, Y, wat ook van die Kaap af kom. Hy het breinskade opgedoen van al die dwelms wat hy al gedoen het. Hy kan nie stilsit nie, maar kan darm normal praat deur die trekke wat sy mond maak. In Weskoppies is sigarette goud. Koffie ook. Almal het altyd by my sigarette gebedel en ek met my sagte hart het maar uitgedeel. Die kos en slaapplek in Weskoppies is goed, maar van behandeling buite medikasie is daar nie veel nie. My sielkundige het twee keer nie opgedaag nie en so ook die arbeidsterapeut. Die social worker het ook nie opgedaag vir ‘n groepsessie oor hoe om weer in die samelewing te intigreer na ‘n lang tyd in Weskoppies nie. Ons was so 18 in die saal. In my laaste dae daar het daar 4 pasiënte van “toe” sale gekom. Ek was gelukkig om in ‘n oop saal te wees, want in ‘n toe saal is jy opgesluit. Weskoppies is severely understaffed en dit is die grootste probleem met die plek. Dan is daar ook die lui susters wat sit en kuier die heeldag en nie die pasiënte observeer nie. Die psigiater wat ek gesien het toe ek nog geswot het, het gesê dat Weskoppies ‘n prag-hospitaal was in die ou Suid Afrika en hy het gewaarsku dat ek eerder moet Denmar toe gaan, maar soos almal wat baie geld het kon hy nie verstaan dat ek nie ‘n mediese fonds het nie. Ek het die idee gekry dat baie mense bly in Weskoppies om van die samelewing weggehou te word en om ‘n heenkome te hê. En soos my psigiater gesê het: psigiatriese siektes kan nie genees word nie, maar ‘n pasiënt kan geleer word om daarmee te cope met medikasie en vele forms van terapie. Die meeste pasiënte in Weskoppies is ou pasiënte wat al menige kere daar was en nie vir ‘n eerste keer soos ek nie.
Hoekom is mense so sleg om emails en SMSe en so aan ordentlik te antwoord? The One het ‘n vriendin in Engeland vir wie hy gereeld email stuur, maar kry dan net kort emails terug om te sê sy is baie besig en sal nog later ‘n email stuur. Lang MMSe (kort briewe eintlik) word ook nie deur sommige mense ordentlik geantwoord nie. The One is goed met kontak hou en maak tyd vir korrespondensie. Aan die ander kant het The One ook maar baie tyd op sy hande om dit te doen. Die wêreld is mos maar ‘n besige plek behalwe vir hom. Hy is nie meer deel van die wêreld nie.
The One se broer (identiese tweeling) het uiteindelik liefde gevind! Hy is duidelik verlief en dit lyk of hy en sy ou goed bymekaar pas en goed is vir mekaar. Die ou is 12 jaar ouer as hy en hy is bipolar, maar al stabiel vir ‘n jaar na 3 weke in Denmar (hoekom is ons omring met mense wat psigiatriese siektes het? Dis dan net ongeveer 1% van die populasie wat dit oorkom.) Ek onthou toe The One en I nog dolverlief was aan die begin van ons verhouding. The One se broer moet nog baie dinge deurmaak: ‘n eerste fight, om die eerste keer kwaad te word vir mekaar, om maskers af te haal en nog baie. The One en I is al vir vier jaar saam en ons herdenking is op die 11de Oktober. Die jare het gevlieg en ons altwee is ander mense as wat ons was toe ons ontmoet het; ons het in mekaar in gegroei en een geword. Ons beplan om gou te trou. Daar is baie en opregte liefde tussen ons. Dit kos R750 om voor ‘n staats-huweliksoffisier te trou wat belaglik is. Ons betaal belasting en kan nie eers verniet trou nie! So, ons moet ‘n bietjie spaar. Daar gaan ook nie ‘n party wees nie en ook nie ‘n seremonie nie,want daar is eenvoudig net nie geld daarvoor nie. Vir ordentlike ringe is daar ook nie geld nie. Nie dat daar gemoun word nie, want dit gaan tog oor die liefde tussen ons.
Ons roos, Gherda, is nou al tien jaar oud. Sy is baie siek en haar blare gaan dood. Sy het luise gehad wat ons suksesvol behandel het met seepwater, maar sy lyk steeds olik. Katta maak ‘n toilet van die roos se bak en dalk kan dit die probleem wees – pet repellent werk nie vir haar nie. The One het ‘n paar sade van drie soorte slaai en spinasie in bakke geplant, maar die is bo in die lug so katta kan nie by hulle uitkom nie. Die clivia blom pragtig en die jakarandaboom begin pers word aan die bokant. Elke jaar wag ons vir Pretoria se jakarandas om pers te word (en wit hier en daar) en elke jaar as dit gebeur besef mens die tyd stap aan.
Ons het nou die aand ‘n baie goeie Franse movie gekyk wat uit agtien kort films bestaan het en die tema regdeur was liefde. Nie net romantiese liefde nie, maar ook liefde tussen ‘n ma en kind en ‘n dronk man en sy bottel. Mense dink altyd romantiek is “hugs and kisses”, maar dis nie al waaroor dit gaan nie. Die natuur kan romanties wees en om ‘n groot liefde vir die see te hê en skulpe van die Kaap af saam te bring na ‘n vakansie is ook romanties. Net soos wat humor nie ‘n grap is nie is romantiek nie net soentjies, drukkies en kerslig etes nie.
I werk nog baie hard by sy nuwe werk wat ook nou nie meer so nuut is nie. Sy harde werk word raakgesien en hy word baie meer waardeer as by sy vorige werk wat goed is vir hom. Hy werk elke dag ‘n uur en ‘n half ekstra sonder ekstra betaling. Ons hoop dus hy kry ‘n groot krismis bonus, asseblief. Dan kan ons op honeymoon gaan dalk – sommer gaan kamp of iets.
The One se ma van Napier is weer George toe vir ‘n mammogram. Sy sê nie of dit net ‘n opvolg-ondersoek is nie en of sy iets vermoed nie. Sy wil ons beskerm nes ‘n ma maar is. Daar moet ‘n vetklier verwyder word wat ‘n Dokter sommer in ‘n spreekkamer gaan doen. The One is bang hy staan nog ‘n ouer aan kanker af. Sy pa het gesterf as gevolg kanker. Dit het vermoedelik in sy longe begin a.g.v. van 35+ jare se rook. Dit versprei toe blaas en slukderm toe. Hy het gesterf net twee weke na die diagnose. Kanker is lelik en vinnig. The One rook ook nou vir al meer as ‘n jaar en wonder of hy op dieselfde pad is as sy pa; sy ma is bekommerd oor hom.
Met Alfred en Jeffrey gaan dit goed. Alfred gooi ‘n bietjie op (op die bank natuurlik!), maar lyk nie siek nie. Jeffrey se hormone pla hom, maar Alfred steur hom nie daaraan nie. Gay honde? Liz (Katta) dans elke dag hier rond. Sy is baie liefdevol en is nie ‘n beneukte kat nie. Dis The One se eerste ervaring met ‘n kat en hy is pleasantly surprised oor hoe interessant ‘n kat kan wees. Die honde kom baie goed met haar oor die weg. Alfred sleep steeds vir Katta aan haar ore rond. Alfred het ‘n aptyt vir CDs ontwikkel. Jeffrey eet min en kou aan amper niks waar Alfred alles opkou.
Selfone het darem ons taal verander. Soos ek hier tik moet ek konsentreer daarop om nie SMS taal te tik nie soos die: “Hi!hoe ganit?als gat gud hie. k tik blog&honne ishie rond.vadag isit warm&ons wag vidie 1ste reën,seka 1vani da.sal leka wees.” Toe ek in Engeland gewerk het by die skool/college was ek verbaas om te sien dat die kinders hulle vraestelle in SMS taal antwoord en niemand het ‘n problem daarmee nie. Dis seker maar deel van evolusie.
Dokters is eienaardige goed. Oftewel waar The One se broer werk as ‘n radiograaf (‘n puik een). Hoor die storie: sy broer het nou die nag nagskof gewerk. Hy was op mobiele eenhede ingedeel waar mens met ‘n masjien op wiele sale toe gaan en x-strale op pasiënte neem wat te swak is om afdeling toe te kom. Dokters bel as hulle ‘n x-straal nodig het. Die dokters in saal 6.7 bel toe vir ‘n borskas x-straal, maar hy was besig in ‘n ander saal so hulle moes wag. Toe hy daar aankom het die pasiënt intussentyd gedood. Die baie kwaai dokters sê toe dit is sy skuld want hy was te laat om ‘n x-straal te neem en dus kon hulle nie kompenseer vir die pasiënt se kondisie nie. Hulle spite hom toe en sê hy moet ‘n nadoodse ondersoek x-straal op die lyk neem en hy doen dit toe en niemand, nie eers die susters, wou help om die lyk op te tel nie. Die pasiënt se longe was vol vog. Ek verstaan dat dit ‘n frustrasie vir die dokters kan wees as hulle moet wag (nie net op radiograwe nie), maar daar is net nie genoeg hande om die werk te doen nie. Toe The One nog radiografie geswot het en in die hospital gewerk het, het hy ook al lyke af geneem (veral babas) en dit is nie ‘n lekker ervaring nie – die glasoë wat nie na jou kyk nie en die oop mond wat nie lug in en uit laat nie en die koue lyf wat nie reageer nie en styf word.
O ja, The One se broer is ‘n radiograaf en nie ‘n radioloog nie. ‘n Radioloog is ‘n mediese dokter wat in radiologie spesialieer om diagnoses te maak van x-strale en CT scans ens. af. ‘n Radiograaf maak die prentjies vir die radioloë. En dis nie net van sit die pasiënt onder ‘n masjien en druk ‘n knoppie nie. Beligting moet gestel word volgens die pasiënt se bou en die anatomie wat afgeneem word (bv. die kilovolts en milli-amperes per sekonde moet reg gestel wees en dit kom meesal met ondervinding en dit bepaal die beligting van die beeld. Hoe lig of hoe donker? Hoe grys (kontras)? Hoeveel penetrasie? Is die energie van die x-strale genoeg om die anatomie te penetreer sonder om die beeld grys te maak?). Dan is daar posisie. Elke deel van die pasiënt wat afgeneem word moet in ‘n baie spesifieke anatomiese posisie wees anders kan vals patologie gewys word. Bv., as ‘n borskas se posisie verkeerd is kan die hart vergroot lyk al is dit nie. ‘n Radiograaf moet ook patologie ken en identifiseer, want dit bepaal hoe die ondersoek gedoen moet word. Radiografie is ‘n wetenskap en ‘n kuns en dokters besef dit nie; hulle dink dis mik en druk ‘n knoppie. Is dit nie wonderlik dat ons fotos van mense se binneste kan neem nie?
Ons het ‘n elektriese sigaret gekoop met die hoop dat dit ‘n gesonder opsie is as gewone sigarette en dalk ‘n manier is om op te hou rook. Toe nie. Die ding se rook is so sleg en proe soos ‘n hubbly – te soet. Dis slegs ‘n propylene glycol, geurmiddels en nikotien damp wat uitkom wanneer ‘n battery dit ge-atomize het. Goeie uitvindsel, but it does not beat the real thing. En dis ook nie goedkoper nie. Ons rook nou Sharp Menthol wat maar R13 ‘n pakkie kos. Dunhill (baie lekkerder) kos tot R28 ‘n pakkie wat ons vermy. So ons probeer spaar met Sharp en saam rook ons ‘n pakkie ‘n dag. Ek voel nie so verslaaf aan die nikotien nie, maar vir my gaan dit meer oor gewoonte. Rook is iets om te doen. En saam met elke sigaret gaan ‘n koppie koffie. The One drink gemiddeld 15 koppies koffie ‘n dag. Is kaffeine verslawend?
The One het dalk ‘n bloeinde maagseer. Die simptome is maagpyn, bloed in opgooi en swart poef. Al die drank en sigarette dalk? Wel, ons drink minder deesdae,want dis net te duur. Sovêr ons weet word ‘n maagseer deur ‘n bakterie veroorsaak. Die mens is goed daarmee om sy ligaam af te breek.
The One komponeer niks. Blank. I skryf min. The One se tjello en klavier het meubels geword. Waar kom inspirasie en kreatiwiteit vandaan? Klanke inspireer The One so dalk moet hy bietjie met synthesizers speel. Sy rekenaar is stukkend. The One is in die proses om weer demo CDs te maak om na platemaatskappye toe te stuur. Hou duime vas!
Nou ja, dis al vir nou.
Vrede en liefde vir almal.
The One.
Post a Comment